Die Cederberg is ’n wêreldklasbestemming nie te ver buite Kaapstad nie. Dié wildernisarea, wat van die Middelbergpas in Citrusdal tot noord van die Agter-Pakhuyspas buite Clanwilliam strek, is ’n land van verskeidenheid en uitbundigheid wat geen avontuurlustige, fynproewer of naweekreisiger moet misloop nie. Hier buig en draai rooi sandsteenrotse in skouspelagtige vorms; hier breek die sagste veldblomme in September deur die klipperige aardkors; en hier is die lug op ’n helder aand só skoon, jy voel of die sterre aan jou venster kan klop. Dit is maar net ’n handjievol van die dinge wat jy kan ervaar wanneer jy die Cederberg jou volgende bestemming maak. Wat nóg, vra jy? Lees ’n bietjie verder wat jy alles in die Cederberg moet ervaar. 

Padstalle

Al is die N7 ook ál wat jy van die Cederberg weet, sal jy steeds ’n behoorlike smakie van die streek kry as jy by die wonderlike padstalle langs dié grootpad deur die Cederberg stop. Van Kaapstad se kant af is Kardoesie eerste, en as jy van vertroostende boerekos hou en vars vrugte en neute vir die pad soek, kan jy gerus hier indraai en vir die eienaars, Hanri and Anette Theron, hallo sê. Die padstal het ook onlangs ’n slaghuis op die perseel bygevoeg en bak hul pasteie self, so jy word van goeie vleisprodukte en varsgebak verseker. 

Kardoesie Padstal N7 citrusdal Kardoese farmstall mengelmoes shop cederber farm stalls
Kardoesie Padstal en sy vriendelike eienaars verwelkom jou wanneer jy aan die bopunt van die Piekenierskloofpas kom. | Foto: Lisa Croeser

Volgende aan die beurt, reg oorkant Piekenierskloof Mountain Resort, is De Tol Farm Deli. Hierdie padstal bied weer gans ’n ander ervaring met hul versameling geboue wat rondom ’n groot grasperk met skadubome en bankies gerangskik is. Hier kan jy by die deli vir padkos, goeie koffie en ligte maaltye indraai, die Carmien-winkel besoek of sommer tegelyk Piekenierskloof se wyn en Carmien se groot verskeidenheid tee proe. 

De Tol Farm Stall and Deli Piekenierskloof pass piekenierskloofpas padstal cederberg de tol padstal
De Tol bied ’n tee- en wynproe-ervaring, heerlike deli-produkte en etes, asook ’n groot grasperk met bankies in die skaduwee. | Foto: Lisa Croeser

Laaste, maar beslis nie die minste nie, stel ons voor jy draai tog van die grootpad af Clanwilliam toe en ry nie eens een kilometer tot by die Velskoendraai Padstal nie. As daar ’n produk in die Cederberg is wat die moeite werd is om te koop, het Louise Nortje dit op haar rakke. Hier is lekker speelplek vir kinders, heerlike, heilsame kos, en jy kan ’n rooibostee-, bier- of wynproe doen! Daar is ook ’n toerismetoonbank by hierdie padstal, maar wees versigtig, gesels jy met Nelda van Zyl van Destination Cederberg, gaan jy sommer vinnig-vinnig enige ander planne afstel om langer in die Cederberg te bly.

Velskoendraai padstal Velskoendraai farmstall Cederberg padstal Clanwilliam teeproe tea tasting wine tasting beer tasting
Die Velskoendraai Padstal by die ingang na Clanwilliam is ’n heerlike plek waar ma inkopies kan doen, pa kan bierproe en die jongspan op die klimraan kan speel. | Foto: Lisa Croeser

Pragtige Passe

Alhoewel die N7 deur die Cederberg ’n baie gerieflike en mooi pad is, is die streek se prag baie beter in sy kleiner paaie, en veral in sy passe vasgevang. Die Middelbergpas, ’n grondpas wat in die reënseisoen uitdagend kan wees, neem jou oor die berg buite Citrusdal na toerismeplase soos Rockwood, Wolfkop en Kunje, waar gesinne al vir jare in die streek boer en woeker. Volg jy dié pad, sal jy in Ceres eindig.

Agter pakhuys pass
Die Pakhuyspas word deur gestapelde rotsformasies omraam. | Foto: Adriëtte le Roux

Die meesterbouer, Thomas Bain, is die brein agter die Pakhuys- en Agter Pakhuyspas buite Clanwilliam. Dié skouspelagtige teerpasse kry albei hul name van die rotsstapels langs die pad wat lyk of hulle deur mense so gepak is! Maak seker jy stop by die Soldaatkop-rotsformasie en C. Louis Leipoldt se graf wanneer jy hier deurry, maar selfs daarsonder sal die ongelooflike mooi natuurskoon jou betower. 

Soldaatkop rock formation rotsformasie cederberg agter pakhuys pass
Die Soldaatskop-rotsformasie kan so ’n entjie van die pad af langs die Pakhuyspas gesien word. Kan jy hom raaksien? | Foto: Adriëtte le Roux

Net na die Agter Pakhuyspas, draai jy regs op die grondpad wat jou na die Biedouwvallei vat — die beste area om in Septembermaand blomme te kyk. Daar is talle klein nedersettings in hierdie vallei, waarvan Wupperthal een is, en hier sal jy die Cederberg kan ervaar soos dit jare gelede was.

Biedouw Valley Cederberg Clanwilliam Wupperthal Cedeberg Flower Season
In die blomseisoen word die Biedouwvallei in helder veldblomme getooi. | Foto: Adriëtte le Roux

Anderkant Clanwilliam is daar ook die Nieuwoudtspas, ook ’n grondpad, verby wynlandgoedere soos Cederberg Wines, toerismeplase soos Kromrivier en besienswaardighede soos die sterrewag, Stadsaalgrotte en Truitjieskraal as jy voel jou motor kan die lang grondpad vat. 

Truitjieskraal
’n Mens kan die hele dag in die skadu van die rotsformasies by Truitjieskraal sit. | Foto: Adriëtte le Roux

Rotsformasies

Die mees kenmerkende verskynsel van die Cederberg is natuurlik sy pragtige sandsteenformasies wat deur jare se winderosie interessante vorms aangeneem het. Weens die yster en mangaan in die rotse vertoon hulle ook dikwels rooi, wat hulle vreemde vorms net nog meer beklemtoon. Sommige rotsformasies se meer uitkenbare vorms het tot gevolg gehad dat hulle name soos Lot se Vrou en Soldaatkop kry, en as jy hulle sou sien, sou jy nogal nie kon stry dat hulle baie na hul name lyk nie!

Lot's Wife rock formation Lot se Vrou rotsformasie Cederberg
Kan jy Lot se vrou teen die regterkant van die klipstapel sien staan? Dié gewilde rotsformasie word duidelik gemerk en is nie ver van die pad af nie. | Foto: Adriëtte le Roux

Jy sou beslis interessante rotse van die motor af kon sien as jy van die kleiner passe ry, maar as jy regtig indrukwekkende rotsformasies wil sien, moet jy die moeite doen en ’n permit teen ’n skamele bedrag koop om by plekke so Truitjieskraal, die Wolfbergskeure en -boog en die Stadsaalgrotte in te gaan. Dié permitte kan by verskeie toerismeplase, soos Kromrivier en Mount Ceder, of direk by Cape Nature se kantore gekoop word. Skakel liefs vooraf en maak seker.

Stadsaalgrotte Standsaal caves
Die Stadsaalgrotte sal jou asem wegslaan! | Foto: Lisa Croeser

Rooibostee

Of jy nou ’n teedrinker is of nie, as jy Cederberg toe kom, moet jy darem ’n teeproesessie of ’n verrykende teetoer inwerk. Sien, die Cederberg is die enigste plek in die hele wêreld waar rooibos verbou word en dus weet die mense in hierdie kontrei ook baie meer van rooibos as enige iemand anders. Wanneer die plant in die veld groei, is hy glad nie as die rooi stokkies in jou teekoppie herkenbaar nie, maar doen jy ’n toer by ’n teeplaas soos Skimmelberg, waar beide rooibos en boegoe verbou word, sal jy sommer gou oor die hele teeproses, van bos tot brousel, wys raak. Onthou egter dat jy vooraf ’n toer by Skimmelberg moet bespreek aangesien dit ’n werkende plaas is.

So droog die groen rooibosblare as rooi stokkiestee in die son by Skimmelberg. | Foto: Adriëtte le Roux

Sou jy hulle mis, kan jy ook altyd na Rooibos Ltd in Clanwilliam gaan om hulle informatiewe video oor die verbouingsproses te kyk voor jy verskeie rooibosprodukte, van roompies tot souse en kombucha op die rak kies en koop. As jy eerder rooibos in al sy verskillende vorms wil proe, stel ons voor jy gaan na die Velskoendraai Padstal in Clanwilliam en doen een van hulle oulike teeproesessies waar jy nie net oor die lewenssiklus van rooibos sal leer nie, maar ook ’n heilsame koppie of vyf kan geniet.

rooibostee rooibos tea in the veld
Só lyk rooibostee in die veld. | Foto: Adriëtte le Roux

Proe, proe, proe

Op die onderwerp van spys en drank, die Cederberg het darem ook baie meer vir jou palet as net tee! Met sy unieke kombinasie omgewingsfaktore, is die streek ook ’n uitstekende plek vir wyn. Hier is miskien nie soveel wynplase soos in die Boland dat dit jou kop sal laat draai nie, maar die wyne wat wél hier verbou word is uitmuntend en in groot aanvraag, plaaslik en internasionaal. Piekenierskloof Wines by De Tol bied ’n groot verskeidenheid wyn wat in hul nuwe, opgeknapte wynproelokaal geniet kan word en Cederberg Wines het al twee keer onder die toptienwynplase in Suid-Afrika gepronk en het in 2021 goud vir hul 2018 Shiraz by die Syrah du Monde verower. 

Cederberg Wines se kelderingang. | Foto: Adriëtte le Roux

Daar is ook heerlike, verfrissende bier, die Boggom en Voertsek-reeks, wat op dieselfde perseel as Cederberg Wines gebrou word. Jy kan dit by die Velskoendraai Padstal proe en by allerlei plekke in die streek koop. Soos enige goeie brouery, volg Gerrit die Reinheitsgebot en wanneer hy ons van sy bier vertel, voel dit vir ons soos ’n pa wat oor sy uitblinkerseun praat — met die proeslag verstaan ons ook hoekom. 

Ons doen ’n keldertoer by Cederberg Wines en besoek ook die bierbrouery! | Foto’s: Adriëtte le Roux

Van die os op die … olyf, is daar ook olywe en olyfolie wat by Mount Ceder in die streek verbou word waarvan jy ’n fynproewerservaring sou kon maak. Dit is miskien ’n bietjie ver se ry om ’n olyf te proe, maar dis geen probleem nie, want Mount Ceder se produkte is werklik uit die boonste rakke én hulle bied uitmuntende oornagverblyf. Kom vir die olywe, bly vir die hele week!

Doen ’n olyfproe by Mount Ceder, ’n pragtige plaas en lodge in die hartjie van die Cederberg. | Foto: Lisa Croeser

Voetslaan en roetedraf

So baie mooi landskappe soos die Cederberg het om mee te spog, so baie staproetes is daar, en meer. Die ongelooflike natuurskoon, wat uit ’n mengsel van Kaapse fynbos, pienkpers sonsondergange en sandsteenrotse bestaan, sal sorg dat jy jou staptog nimmer kan vergeet en dat jy die allermooiste foto’s huis toe vat. 

Die natuurreservate en die meeste van die toerismeplase in die streek het hul eie dagstappe, so as jy by ’n plek soos Mount Ceder, Kromrivier, Cederkloof Botanical Retreat, Kunje Guest Farm of Wolfkop Nature Reserve Mountain Cottages oorslaap, sou ons aanbeveel jy begin altyd eers deur hulle eie roete op die proef te stel.

Die roetes in die streek waaroor almal gons bly egter die Maltese Kruis en die Wolfbergskeure en -boogroete. Die Maltese Kruis-staproete is net so oor die sewe kilometer se stap en eindig by ’n indrukwekkende, kruisvormige rotsformasie van sowat vyf verdiepings hoog. Jy koop ’n permit by Dwarsrivier vóór jy na die beginpunt van die roete ry en as dit stadig gevat word, kan ’n gemiddelde stapper dit sonder te veel probleme afhandel. 

’n Stap in die Cederberg is altyd ‘n skouspelagtige ervaring. | Foto: Adriëtte le Roux

Om die Wolfbergskeure en -boogroete te stap, sal jy ’n permit by Sanddrif of Dwarsrivier koop en tot by die beginpunt van die staproete ’n hele entjie verder moet ry. As jy die boog ook wil besoek, sal jy nog ’n ekstra permit deur Cape Nature moet koop. Die Marslandskap wat op jou wag, maak dit beslis die moeite werd! Die roete kan vreeslik warm wees en daar is nie water op pad nie, so jy sal alles moet saamdra. Tog is dit een van die bekendste en mooiste roetes in die Cederberg. Alhoewel die 16 kilometer-roete ’n strawwe dagstap kan wees, het dit gewild geraak om, met die toepaslike permitte, by die boog onder die skitterende Cederberg-sterreruim oor te slaap.

Die Kromrivier BEAST, ’n velddraf-geleentheid waar deelnemers die ses pieke van die Kromrivier Cederberg Park se amfiteater bestyg, moet ook genoem word. Die geleentheid vind jaarliks plaas, maar as dit vir jou (soos vir die skrywer) ’n bietjie bo-menslik klink, onthou dat Kromrivier ook dagbesoekers toelaat, so jy kan enige van die staproetes op die perseel teen jou eie pas ook doen.

Doen jy die Kromrivier BEAST, sou jy hier op Kromrivier kon oorslaap en kuier. | Foto: LekkeSlaap.co.za

Die belangrikste ding as jy in die Cederberg kom stap, is om sonskerm, water en ’n hoed saam te vat. Hier is nie bome vir skaduwee nie en dit raak bitter warm. Onthou ook dat al die staproetes in die Cederberg op privaat grond is, so maak seker jy kontak die regte persoon vir ’n permit sodat jy kan aanmeld — vir die behoud van die streek se ongerepte natuurskoon, maar ook vir jou eie veiligheid. 

Blommetyd

Tydens die blomseisoen loop Clanwilliam se strate en die velde rondom die dorp oor van blommekykers wat dit eens is — die Cederberg is een van die beste blomkykbestemmings in die land. Vanjaar word die Clanwilliam Veldblomskou van die 25ste Augustus tot die 4de September weer in die Blomkerk gehou. Nadat ’n span vlytige plantliefhebbers in die velde rondom die dorp uitgevaar en spesifieke plantjies versamel het, word hulle op hope sand in die Blomkerk geplant, elkeen met sy naam by, sodat jy op gerieflike wyse al die blomme wat hierdie streek bied, kan sien. 

Die Blomkerk in Clanwilliam se hoofstraat is in die blomseisoen propvol plante! | Foto: Adriëtte le Roux

Sou jy eerder ’n bietjie wyer wou loop, kan jy teen ’n minimale koste die 68 hektaar-grootte Ramskop Natuurtuin in Clanwilliam besoek. Dié tuin het vanjaar met die nuwe hulp van Daleen Schoombee en haar regterhand, Petrus, ’n nuwe blaadjie omgeslaan en hier kry jy ’n voëlvlug oor die streek se plantegroei saam met ’n pragtige, panoramiese uitsig oor die Clanwilliamdam. 

Dié uitsig oor die Clanwilliamdam kan jy vanaf die Ramskop Natuurtuin sien. | Foto: Adriëtte le Roux

Sou jy jou bene nog meer wou strek, stel ons voor jy verken die Biedouwvallei waar die blomme op hulle heel mooiste is. As jy regtig die meeste uit jou ervaring wil put, is dit by verre die moeite werd om ’n kundige gids te kry wat saamgaan. Doen gerus by die Destination Cedeberg-toonbank by die Velskoendraai Padstal hieroor navraag.

Geskiedenis en kultuur

Om meer oor die hart van die streek te leer, sou die beste beginpunt die Ou Tronk Museum in Clanwilliam wees. Hierdie privaat museum bevat inligting en uitstallings oor alles van die Khoisan wat eers hier gewoon het en die Sederbome wat uit die streek verdwyn het, tot Tolla van der Merwe en die pyptabakbedryf. 

Die Ou Tronk Museum in Clanwilliam is ’n pragtige tentoonstelling van die geskiedenis en die hart van die streek. | Foto: Adriëtte le Roux

Strassbergers in Clanwilliam is die eerste velskoenfabriek in Suid-Afrika en klop jy hier aan, kan jy vir jou ’n paar tawwe velskoene koop en sommer ook uit die uitstalling in die voorportaal van die fabriek se spesiale geskiedenis leer. 

Die Strassbergers-winkel is op dieselfde perseel as hulle fabriek in die dorp en is oop vir die publiek. | Foto: Adriëtte le Roux

Dié fabriek is destyds op Wupperthal, die Morawiese sendingstasie sowat sewentig kilometer buite Clanwilliam begin. Dit sou dan jou volgende stop wees as jy die Cederberg van ouds wil ervaar. Ná die brand in 2018 wat verskeie van Wupperthal se historiese geboue vernietig het, sou mense dink dié afgeleë dorp sou ophou bestaan, maar Wupperthal is vinnig besig om na sy voormalige glorie te herstel. Alhoewel daar nog nie veel in die dorpie te koop is nie, maak ’n luilekker wandeling deur sy strate, ’n besoek aan die kerk en ’n skouerskuur met sy vriendelike mense die besoek die moeite werd.

Die pragtige kerk in Wupperthal is so te sê die enigste ding wat nie in die 2018-brand in die slag gebly het nie en dit is inderdaad ’n mooi baken om te besoek. | Foto: Lisa Croeser

Bly hier

Die grootste dorpe in die Cederberg is Clanwilliam en Citrusdal, en jy sal natuurlik daar verblyf in alles van ’n selfsorg-eenheid tot ’n hotel kan vind. Indien jy meer die natuurskoon van die Cederberg wil ervaar, is dit wys (en ook baie maklik), om ’n afgeleë eenheid by ’n natuurreservaat of op ’n toerismeplaas te bespreek. Ons het onlangs by Mount Ceder, ’n pragtige olyfplaas in die hartjie van die Cederberg, met ’n rivier en hope aktiwiteite op die perseel, oornag en kan nie wag om terug te gaan nie.

As jy ’n afgeleë huis tussen die berge naby ‘n rivier soek, is Mount Ceder jou toevlug in die Cederberg. | Foto: LekkeSlaap.co.za

Vir georganiseerde gesinspret is die Piekenierskloof Mountain Resort altyd ’n wenner, en as jy lekker in die natuur wil stap, maar in weelde wil slaap, is Kromrivier ’n goeie keuse. Cederkloof Botanical Retreat bied ’n ontspannende ervaring met ’n eko-vriendelike inslag en Jacuzzi’s op die stoep en as jy in ’n natuurreservaat wil oorbly is Cape Nature se Algeria ook gewild.

Watter verblyf jy ook al kies, in die Cederberg kan jy nie verkeerd gaan nie. 

Die Cederkloof Botanical Retreat is ’n toevlug vir reisigers wat na rus en vrede soek. | Foto: LekkeSlaap.co.za

Of jy ál hierdie aktiwiteite in ’n kort rukkie probeer inpas, of weer en weer terugkeer, die Cederberg verwelkom ’n mens telkens met ope arms en nog opwindende avonture. Oor die streek baie plattelands is, beweeg die lewe teen ’n stadiger pas en is dit die moeite werd om altyd vooruit te skakel en seker te maak alles wat jy wil doen is beskikbaar en oop. Wanneer jy aanmeld, sal die mooi landskap en die vriendelike gesigte wat jou ontvang die rit tot by hierdie wonderskone streek die moeite werd maak.

Baie dankie aan Nelda van Zyl van Destination Cederberg wat die Cederberg vir ons ontsluit het en vir die span by Mount Ceder wat ons met soveel gasvryheid hanteer het, asook elke rolspeler wat hulle Cederberg-avonture met ons gedeel het.

Hooffoto: Die Stadsaalgrotte deur Lisa Croeser