Het jy al ooit deur die Noord-Kaap gery en gewonder wat die huisies wat soos reusebyekorwe lyk doer in die veld is? Wel, vandag vertel ons jou meer van dié unieke Karoo-huisies wat op die vlaktes naby Carnarvon, Fraserburg, Loxton en Williston geskater staan, én wys jou sommer waar jy in van hulle kan gaan oorslaap. 

Korbeelhuisies is in die vroeë 1800’s deur die trekboere, wat van die suide deur die omgewing getrek het, as skuiling gebou en bied vandag ’n interessante blik op ’n stukkie van hierdie mense se uitdagende lewens. Soos ons weet, is hierdie deel van die Karoo maar ’n dorre omgewing, sonder enige bome vir honderde kilometers in sig. Hout was dus skaars en die boere moes ’n plan met die beperkte boumateriale tot hulle beskikking maak. Dié boustyl, wat van klip, kaf en klei gebruik maak, word al vir meer as 4000 jaar in Mediterreense lande gebruik en niemand weet presies hoe die trekboere in ons land van dié tegnieke te wete gekom het nie. Die mure van die huisies word met plat klippe, meestal leiklip wat volop in die omgewing is, gepak en die koepeldak word dan gevorm deur die klippe al meer na binne op mekaar te pak. Die gat in die dak word dan met ’n groot klip toegepak. Kenners meen dat die dik mure behoorlik weerstand teen die verskriklike hitte in die somer en koue in die winter gebied het. 

Die unieke koepeldak by Stuurmansfontein Corbelled House.

Daar staan vandag nog meer as 100 van hierdie huisies in die omgewing en dit is ’n belangrike deel van ons land, en veral die Karoo, se geskiedenis wat behoue gebly het. Geskiedenis-liefhebbers sal dus mal wees oor die erfenis wat in die huisies vasgevang is en dit is ’n wonderlike ervaring om in hierdie onderontwikkelde en meestal ongerepte deel van Suid-Afrika weg te breek. 

Stuurmansfontein Corbelled House

Daar is nêrens anders ‘n huisie soos hierdie nie.

Op die Stuurmansfontein-plaas 57 kilometer buite Carnarvon skuil daar een van hierdie huisies waarin julle vir ’n wyle kan gaan bly en die oorverdowende stilte en ongerepte natuurskoon kan ervaar. Stuurmansfontein Corbelled House is 35 jaar gelede deur vakmanne opgeknap om die geskiedenis vir die volgende geslagte te bewaar en is vandag ’n nasionale monument én ’n gerieflike selfsorghuisie met slaapplek vir ses gaste. Dit is onbekend wie hierdie korbeelhuisie gebou het en die huidige eienaars van die plaas weet ook nie presies hoe oud hy is nie. Naby die huisie is die oorspronklike dorsvloer nog te sien. Dit lyk soos ’n kleiner weergawe van die korbeelhuisie en die koring is met donkies daar uitgetrap en in die korbeelhuisie gestoor. Die huisie se vloere het destyds uit pensmis en bloed bestaan, want elke keer as die inwoners klaar geslag het, het hulle die vloere met mis en bloed gesmeer. 

Die korbeelhuisie is pragtig versier en spog met drie slaapkamers met gemaklike beddens, ’n badkamer met ’n bad, ’n toegeruste kombuis, sitarea en ’n eetarea. Braaigeriewe is natuurlik ook beskikbaar. Daar is nie elektrisiteit nie, maar genoeg kerse word voorsien en die yskas, stoof en geiser werk met gas. Die afwesigheid van elektrisiteit, selfoonopvangs en WiFi laat dit amper voel asof jy terugbeweeg in tyd en tot ’n mate beleef hoe die trekboere van ouds oor die weg moes kom. Daar is twee fonteine naby die huisie en die skoon water kom daarvandaan. 

Die pragtige sitkamer en slaapkamer in die gerieflike huisie.

“Omring deur die pragtige Karoo met skape wat kom water drink en die rustigheid wat jy geensins in die stad gaan kry nie. Jy kan jouself hoor dink en die sonsondergang en -opkoms is onbeskryflik hier.” Jeandre H. 

Ons stel voor julle verken die natuur om die huisie om werklik te verstaan hoe afgesonder dit is. Daar is talle stap- en fietsroetes en voëlkykgeleenthede op die plaas van 6000 hektaar en julle kan saans die ongelooflike sterrehemel aanskou — die Noord-Kaap is mos bekend vir sterrekyk!

Osfontein Antieke Klip Guesthouses and Treehouse

Die korbeelhuisie skep ‘n unieke Karoo-toneel.

Osfontein Gasteplaas naby Carnarvon is ’n skaapplaas met ’n unieke korbeelhuisie waarin julle kan oorbly. Die eienaars van Osfontein reken dat dié korbeelhuisie rondom 1838 gebou is, want dit was die eerste keer wat hulle plaas deur ’n landmeter gemeet is en daar rekords beskikbaar gestel is. Die hele struktuur is ook van klip, klei en kaf gebou, maar die geelhoutstomp bo die kaggel is nogal opvallend. Dit is te koud vir geelhoutbome om in die Karoo te groei, so dit beteken dat die bouers van hierdie huisie dié massiewe stomp van iewers anders moes saamkarwei. Natasha Lubbe van die plaas skryf: “Hierdie deel van die Karoo word nie verniet die Hardemans Karoo genoem nie, die ou mense was taai (miskien vandag nog) om hier te bly, ver van alles en baie afgesonder.”

Osfontein se korbeelhuisie is in 1997 opgeknap en as gastehuis ingespan. Daardie tyd het die huisie nie vloere, deure of vensters gehad nie en die eienaars het klipvloere en houtdeure en -vensters bygevoeg. Hulle het ook ’n badkamer met ’n warmwaterstort op dieselfde bouplan aangebou en ’n sonkragstelsel geïnstalleer sodat die huisie elektrisiteit het. Daar is steeds kerse byderhand as julle eerder die oorspronklike atmosfeer van die korbeelhuisie wil ervaar. Die huisie bied slaapplek aan vyf gaste en het twee slaapkamers. Die kombuis is met alles wat julle nodig het toegerus en die oorspronklike kaggel kan ook as braaiplek dien as julle nie vir die koue langs die buitebraaigeriewe kans sien nie. 

Die oorspronklike kaggel met ‘n geelhoutstomp en die gemaklike bed.

Verken dié pragtige Karoo-plaas met ’n verskeidenheid stap- en bergfietsroetes en klim in jou eie 4×4 om die afgeleë dele te bereik. Daar is ook ’n swembad vir die somerhitte en gratis WiFi by die hoofplaashuis. Die plaas spog ook met ander unieke verblyfopsies, soos die ou waenhuis wat in ’n selfsorghuisie omskep is en ’n lieflike boomhuis in die 200 jaar oue populierbos. 

Wanneer jy weer voel die besige stad raak vir jou te veel, vat die pad na die Noord-Kaap en gaan ontspan behóórlik by een van hierdie interessante korbeelhuisies. Die skoon Karoo-lug en pragtige omgewing kan jou net goed doen! 

Hooffoto: Osfontein Antieke Klip Guesthouses and Treehouse