Het jy as kind ook soms gedink jy hoor kabouters in die tuin sing? Dan sal hierdie volgende paar wegbreekvoorstelle vir jou baie geluk bring! Lente is om die draai en tuine word binnekort met ’n kleurvolle blompalet versier. LekkeSlaap het ’n paar bekoorlike tuinkothuise, wat op jou volgende wegbreeklysie moet wees, in die Wes-Kaap gaan uitsnuffel.

Blaauw Cottage, Riebeek-Kasteel

Tuinkothuise_Blaauw Cottage

Riebeek-Kasteel bekoor gaste met sy kunstige en kultuurryke atmosfeer wat jou oral in die dorp volg. Met sy kontemporêre en eko-vriendelike ontwerpstyl is Blaauw Cottage ’n wenkeuse as julle in dié dorpie wil gaan wegkruip. Die selfsorgkothuis is sentraal geleë en het oopplan-areas met drie slaapkamers. Daar is ’n plonspoel in die tuin en ’n lekker groot stoep met ingeboude braaigeriewe wat hierdie kothuis ideaal vir ’n intieme wegbreek saam met vriende en familie maak. 

Fairhill Cottage, Knysna 

Tuinkothuise_Fairhill Cottage

Verbeel jou jy het ’n gedeelte van die mooie Knysna as jou tuin. Wel, Fairhill Cottage het! Dié kothuis op die Rheenendalpad is op ’n heuwel geleë en spog met ’n tuin wat ’n uitsig oor die uitgestrekte natuurskoon en strandmeer het. Dit bied slaapplek aan twee gaste en sluit ’n uitkykdek, ’n vuurput, braai-area en onderdakstoep in.

Petit Plaisir Cottage, Franschhoek

Tuinkothuise_Petit Plaisir Cottage

Petit Plaisir Cottage pronk in die buitewyke van die fynproewershoofstad Franschhoek. Die vierster-kothuis se stylvolle afwerkings en kenmerkende tuin lyk soos een van die blaaie in ’n Franse fotoboek en is ideaal vir ’n paartjie wat op soek is na ’n romantiese en rustige wegbreek. Hoewel die kothuis baie ouwêreldse sjarme bied, is dit met moderne geriewe soos WiFi, DStv en lugversorging ingerig. Julle kan julle eie kruie in die tuin gaan pluk, jul dae langs die swembad deurbring of gedurende die winter voor die kaggel opkrul. 

Bukkenburg Cottage, Swellendam

Tuinkothuise_Bukkenburg Cottage

Bewonder die berge vanaf dié kleurvolle kothuisie in die hartjie van Swellendam. Soos sy naam verklap, is Bukkenburg Cottage in die plaastuin van die erfenishuis, Bukkenburg, wat ook ’n woonhuis, ateljee en galery van bekende pottebakkers is. Die kothuis se helder kleur komplementeer die tuin met sy bont baadjie. Daar is slaapplek vir vier gaste en albei slaapkamers het lugversorging. 

Kleijne Karu, McGregor

Tuinkothuise_Kleijne Karu

Kleijne Karu sal gaste se verbeelding laat ophelder met ’n lowerryke agtertuin en ’n hekkie wat na ’n dammetjie lei — hoe sprokiesagtig klink dit nie? Hierdie kothuis in McGregor is 700 meter vanaf die middedorp en julle kan die talle bekende wynkelders in die area besoek. Natuurliefhebbers kan die verskeie wandelroetes wat deur die omgewing vleg verken en jou vierbeenvriend is ook welkom aangesien die perseel omhein is!

Woodcutters Forest Cottages, Rheenendal

Tuinkothuise_Woodcutters Forest Cottages

’n Kothuis wat op die rand van die Knysnawoud geleë is beloof ’n buitewêreldse ervaring. Woodcutters Forest Cottages in Rheenendal bestaan uit twee romantiese kothuise met slaapplek vir ses en ’n tuin wat die natuurskoon van die woud binnenooi. Hier dans verskeie blomme en plante om jou rond terwyl jy op die perseel se wandelpaadjies stap. Die kothuise is met kuns, outentieke matte en unieke dekor versier wat ’n kreatiewe siel sal laat blom.

Karoo Masterclass House and Cottage, Prins Albert

Tuinkothuise_Karoo Masterclass House and Cottage

Karoo Masterclass House and Cottage se kothuis is een van twee eenhede op die perseel en skuil in Prins Albert waar julle skilderagtige sonsondergange kan aanskou. Daar is slaapplek vir vier gaste en jou troeteldier is ook genooi. Julle kan kruie en groente uit die organiese tonnel geniet en versoek dat inkopies vooraf vir hulle afgehandel word sodat julle algehele rustigheid op die perseel kan geniet. Verder het die kothuis elektriese komberse, WiFi, ’n stoep en ’n privaat plonspoel waarin julle kan afkoel en ’n skemerkelkie geniet soos die dag groet. 

Little Oak Cottage, Greyton

Tuinkothuise_Little Oak Cottage

Greyton word nie verniet as die romantiese platteland beskryf nie! Dit is te danke aan sy prentjiemooi omgewing, en boonop is daar oneindigende aktiwiteite in en om die dorp. Die fraaie Little Oak Cottage lyk asof dit in ’n sprokiesboek hoort, maar dié dubbelverdieping-eenheid is lekker ruim en het geriewe soos ’n kaggel, ’n TV met DStv-kanale, muurverwarmers, ’n plafonwaaier en ’n volledig toegeruste kombuis. Gaste kan hul dae langs die swembad deurbring, die talle roetes in die area verken of die eetplekke, winkels en galerye besoek. 

Kom hou jouself weer kind en ontspan in ’n tuin waar die gejaagde lewe iets van die verlede is, want soos Carike Keuzenkamp in haar liedjie getuig: “Dit is alles waar, dit is alles daar… Daar ver in feëtjieland.” 

Hooffoto: Little Oak Cottage


Hou jy van unieke verblyf? Lees ook:

Tien bekoorlike boomhuisblyplekke

Korbeelhuisies: Wat is hierdie interessante geboue in die Noord-Kaap?